| 'n Spesiale polisietaakspan is
byeengeroep om broodboomdiefstalle in die Montana-omgewing in die noorde
van Pretoria te ondersoek. Altesame 25 voorvalle van broodboomdiefstal
is sedert Mei in die gebied aangemeld en die waarde van die gesteelde
bome beloop nagenoeg R250 000. Mnr. Jan van
Vuuren van AA Cycads in Montana is een van die broodboomeienaars wat
onlangs deurgeloop het. Hy het 'n beloning van R10 000 uitgeloof vir
inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van
die persoon wat 'n boom van R40 000 uit sy persoonlike versameling
gesteel het.
Van Vuuren sę broodbome se gewildheid en waarde het
die afgelope tien jaar met rasse skrede toegeneem. "'n Boom wat sowat
tien jaar gelede vir R500 gekoop is, kan nou verkoop word teen R15 000.
"Op 'n onlangse private veiling in Kwa-Zulu-Natal is
twee bome vir onderskeidelik R425 000 en R320 000 verkoop."
Van Vuuren meen die groeiende gewildheid van broodbome
kan moontlik daaraan toegeskryf word dat dit prehistoriese plante is wat
van 250 miljoen jaar gelede dateer.
Die ouderdom van individuele bome in die natuur is al
geskat op sowat 2 000 to 3 000 jaar. So 'n boom staan omtrent 7m hoog.
Versamelaars is soms net gek na 'n bepaalde boom se voorkoms.
Die vraag na die bome is tans baie groter as die
aanbod. Die feit dat broodbome soveel werd is, lei tot die diefstal van
die bome van kwekers en baie bome word selfs uit mense se tuine gesteel.
Van Vuuren meen omdat die vraag so groot is, is dit maklik om van
gesteelde bome ontslae te raak.
Volgense hom is Suid-Afrikaners "altyd opsoek na 'n
winskopie".
'n Onwettige broodboom as 'n "winskopie" kan jou egter
tien jaar tronkstraf of 'n boete van R100 000 of albei op die hals haal.
Die departement van natuurbewaring is in 'n verdere
voorsorgmaatreël besig om bome met mikroskyfies toe te rus wat nie deur
die publiek "gelees" kan word nie. As jy 'n broodboom sonder 'n permit
bekom, kan die departement jou vastrek as hulle die mikroskyfie in jou
tuin kry.
Van Vuuren sę broodbome wat in die veld uitgegrawe
word, oorleef in baie gevalle nie die oorplanting nie. Bome wat egter
gekweek word, plant baie maklik oor en groei tien keer vinniger as die
bome wat in die natuur voorkom.
Broodbome is op Cites se kategorie 1-lys van bedreigde
spesies, saam met renosters en walvisse, maar anders as dié diere kan
individue die bome kweek as hulle wil.
Broodbome is eenslagtig, wat beteken daar is manlike
en vroulike bome.
Van Vuuren sę die onus rus op die publiek om hierdie
unieke bome te bewaar en die onwettige handel daarin te voorkom. As lede
van die publiek onraad vermoed in 'n broodboom-transaksie kan hulle
supt. Johan Scott bel by 011-274-7631. Vir inligting oor Van Vuuren se
gesteelde broodboom kan hy genader word by 012-548-9233. |